Heartprints

Heartprints

Share

Pastoral and Christian Counsellor
Art Life Coach
Ecometrist

28/08/2026

Ek word ouer, ek is nou 'n rolbos. 🌿 🌿 🌿

Ek het onlangs eers behoorlik ged**k oor hoe 'n rolbos eintlik werk - en dit het my diep geraak. Dis nie 'n dooie, nuttelose bos wat net deur die wind rondgegooi word nie. Dis iets met 'n laaste, belangrike doel.

En ek besef dit is eintlik die storie van my lewe ook.

Eers was daar die groei.
Die jare wat ek gebou het, vertak het, moedig gebly het. Ek het my wortels gegrawe en my plek gevind. Ek het geleef en volwasse geraak.

Dan kom die droogtetyd.
Die dinge wat nie meer nodig is nie, val weg. Die geveg om te bewys, die behoefte om relevant te bly - dit word bros en los. En dis oukei.
Dis die natuur.

Dan kom die losbreek.
Ek is besig om die laaste dinge wat my nog vashou, stadig los te laat. En dit maak my nie meer so bang soos vroeër nie.

En dan kom die rondwaai.
Die lewe en omstandighede het my stelselmatig gevorm - deur die wind wat my gebuig en gedraai het - dat ek nou 'n mooi ronde vorm het.
Sag en vol.

En ek besef: dis nou my tyd om te rol.

Om doelbewus deur die wêreld te beweeg en my saad uit te skiet

🌿 die wysheid wat ek geleer het
🌿 die sagte oor wat kan luister
🌿 die hand wat kan help
🌿 die hart wat kan liefhê

Ek word nie meer vasgehou deur my eie behoeftes nie. Ek kan nou gee, so ver as wat die wind my dra.

Totdat ek tot rus kom. Uitmekaar. Stilte. Vry.

Ek d**k dis 'n mooi manier om oud te word. Ek word nie minder nie - net 'n ander soort meer. ❤️

As jy my pad kruis, moenie verras wees as ek iets vir jou agterlaat nie. Dis mos wat rolbosse doen. 🌬️

🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿

Gesels gerus met my as jou lewe nie sin maak op die oomblik nie.
Kom ons kyk of jy dalk in een van hierdie fases is.
As jy weet wat met jou gebeur, as die gesukkel ‘n doel dien kan jy jou kop oplig.

24/08/2026

Die gewone mens.

Daar was 'n tyd toe "aanvaarbaar wees" beteken het: doen dit, doen dát - sodat jou ouers trots is, jou skoonfamilie tevrede is, jou beste vriendin kan knik, en die sosiale kring kan sê ja, sy's oukei. Ek ken daardie tyd. Ons almal ken dit.

Dan kom die moeite. Jy werk harder. Jy jaag die perfekte lyf - minste plooitjies, gesondste hare, tande wat skitter. Alles moet perfek wees, anders kan jy nie op Instagram post nie. En as jy regtig eerlik is: alles lyk tog net bietjie beter as dit slegs in twee- of drie kleurskakerings is.

Maar dan kom die diepste steek. Die een wat niemand vir jou sê nie: jy moet jouself verloor. Jy moet conform. Jy moet jou lewe buig en pas sodat jy kan inpas.

En êrens in daardie buig en pas, vergeet jy wie jy was.

🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿

Ek wil jou vertel van my gewone lewe.

Ek hou van bont lappe en los rokke. Ek was 'n gewone ma - mal oor my kinders, maar soms het ek gewens ek kon hulle teruggedruk het na waar hulle vandaan gekom het. Ek het 'n gewone werksgeskiedenis. Ek leef 'n gewone lewe.

Ek koop soms 'n interessante boek en lees dit 'n jaar later. Ek het 'n paar projekte begin en hoop om dit te voltooi voordat ek dood neerslaan. Soms eet ek Lays chips en noem dit 'n ete.

Ek is gelukkig.

🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿

Ek wonder of ons nie in hierdie mal gejaag weer kan terugkeer na gewoon nie.

Daar sit mammas voor my met ernstige anxiety, en stres het hul beste maat geword. Ek werk met besigheids-eienaars wat die kers aan albei kante brand. Onderwysers wat nie kan asemhaal nie. Kompeterende tieners wat voel hulle brand uit.

En ek d**k: wanneer laas het iemand vir hulle gesê - jy mag net gewoon wees?

Gewoon is nie 'n mislukking nie. Gewoon is nie minder nie. Gewoon is die plek waar jy weer kan asemhaal.

🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿

So ek vra jou vandag: Kan jy onthou wanneer laas jy net gewoon was? Net jy, sonder die filters, sonder die regmaak, sonder die inpas? Of het jy ook, iewers langs die pad, verander sodat jy kon inpas en vergeet wie jy eintlik was?

As jy vandag een ding kon aflê - net één ding wat jy dra sodat ander kan goedkeuring gee - wat sou dit wees?

Vertel my in die kommentaar. Ek lees elke een. 🤍

20/08/2026

Mens moet iemand hê wat vir jou wag.

Ek onthou die dae wat ek soos 'n mal mens gery het om my kinders by hul bestemmings te kry.

Ek het twee lewens gehad. Toe die kinders klein was het ek hulle self grootgemaak. Deur elke fase saam met hulle gegroei - judo, ballet, voortrekkers, ninjitsu, koor, biblioteek en terug.

Natuurlik het ek self ook 'n lewe gehad; van die huis af gewerk voor dit 'n ding was. Tennis gespeel, facials en naels en gekookte kos gereed gehad vir aandete. As die kinders buite gespeel het, het ek Oros en koekies aangedra, naaldwerk gedoen met my dogtertjie op my skoot. Klein handjies op mamma s'n.

Die tweede lewe was heeltemal anders. Ek het voltyds gewerk, die tieners ingeskryf by Affies en toé het die manoeuvring begin.

Donker opstaan, tieners rondry - seuns- en meisies koor op verskillende tye. Ninjitsu, naweek-werk, partytjies en so het dit gesorg dat sewe jaar weggevlieg het.

Toe kom die stilte.

Albei jong mense vat die pad. Universiteit toe, begin werk, woon op hul eie en toe twee troues.

Aanvanklik was dit wonderlik. Ek het opgehou jaag, bietjie later werk toe gery en baie tyd vir myself gehad.

Nou - na 17 jaar is ek weer in 'n ander fase.

Vandat Charlotte te siek is om self te ry gaan haal ek haar drie keer 'n week by dialise. Soms wag sy vir my, maar meeste van die tyd wag ek vir haar. Wat 'n onbeskryflike voorreg om haar weer te kan rondry.

Dan is daar 'n baie spesiale klein dogtertjie wat een maal 'n jaar vir ouma wag. Ek wag ook vir haar facetime oproepe en boodskappies.

Soms wag my sussie vir my om by haar garage in te ry, of, ek wag vir haar.

Ek weet nie in watter hoofstuk jy is nie.

🌱 Dalk in die mal fase van jaag en jy vat nie grond nie.

🌱 Dalk waar jy voel jy kry nie meer asem nie.

🌱 Dalk is daardie oulike babas nou tieners.

🌱 Dalk kry jy die spulletjie nie ge'launch' nie.

🌱 Dalk is jy nou in die stilste tyd van jou lewe en jy voel alleen en 'onnodig'

🌱 Dalk bly jy oorsee en nou voel jy skuldig want jou ouers raak oud.

🌱 Dalk bid jy vir iets nuuts, of hoe om met jouself saam te leef.

🌱 Wel, dalk hou jy nie eers baie van jouself of jou skoonma, of ma, of kinders nie.

Dis okay. Dis 'n fase.

Ek wag vir jou.

Jy kan op die Heartprints bank kom sit en al jou gal braak.

Daar is altyd 'n uitweg. Dalk wag jou binne-mens al jare vir JOU!

Aanlyn afsprake is beskikbaar terwyl hierdie ouma bietjie gaan speel by daardie dogtertjie daar in die verte.

ps. My skoondogter wag ook vir my... MIL moet Boere groenboontjies en soet patats vir haar maak.

Photos from Heartprints's post 17/08/2026

1980. Wimbledon. Die les wat bly. 🎾

Ek onthou die Sondagmiddag, my pa op sy stoel, coke in 'n bierglas en sy geel pakkie 'Rembrand van Rijn' si*****te.

Ek is op die bank onder die groen kombers en ons altwee staar na die Sony Boks TV.

Bjorn Borg en John McEnroe het teen mekaar te staan gekom, in die eindstryd.

McEnroe het rakette gegooi, teen die grond stukkend geslaan, met sy emosies geveg soos ’n bondel vuur.
Borg? Kalm. Gefokus.

"Mens moet ’n Big Match Temperament hê," het my pa gesê terwyl hy die rook stadig uitblaas.

Toe ek vraend na hom kyk, verduidelik hy...

"Jy moet altyd na die groter prentjie kyk, waar wil jy uitkom? ... wie wil jy wees?...
Dan vat jy die slegte oomblikke en d**k 'n plan uit om verby dit te kom sodat jy by jou einddoel kan uitkom."

McEnroe het dit nie gehad nie - dis hoekom hy verloor het.

Ek onthou daardie woorde gereeld as frustrasie, irritasie of moedeloosheid my pad kruis.

Dit gaan nie oor die onmiddelike bal of situasie nie.

Dit gaan oor die groter visie – die Big Match Temperament – sodat jy aan die einde kan sê:

"Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou." 2 Timoteus 4:7 ❤️

Ek weet die lewe is moeilik vandag. Ek lees ook van die moeilike situasies waardeur gesinne stoei op facebook groepe.

Die raad word goed bedoel..."run"..."ek sien rooi vlae 🚩"... "los hom"..."sny hulle uit jou lewe"

Maar, ek nooi jou.

Kom sit hier by my. Kom ons vind jou "Big Match Temperament"

14/08/2026

Boelies is nie wenners nie!

Ek ry Vrydagmiddag rustig op die N14 na my sussie. Dis eers toe ek verkeer slaan wat ek besef "O, ja! Dis 'n langnaweek."

Ek hou by 120km 'n uur want teen hierdie tyd weet ek presies waar die TMP wegkruip. Skielik is daar 'n massiewe kar/bakkie/ding-op-wiele wat almal uit die pad probeer druk.

Hy jaag op karre af, rev/flikker ligte/druk die to**er en slaan remme aan.
Toe hy nie in die regterbaan regkom nie teister hy elke kar in die middelste baan. Al gee sommige karre pad, jaag hy op die volgende af.

Ek meen, die pad is vol karre, waarheen moet almal gaan sodat hy voor kan wees?

Ons almal skud koppe toe alles tot stilstand kom op die snelweg en Boelie sit vas in die linkerbaan terwyl ons almal rustig by hom verby ry.

Die lewe is maar so.

🌱 Daardie boelie by die werk wat op almal skree of bevordering passief-agressief terughou.

🌱 Die man wat op eiers loop by die huis want sy vrou het permanent PMS.

🌱 Die vriendin wat so mooi is voor jou maar agter jou rug oor jou skinder.

🌱 Die selgroep-leier wat bid voor die groep oor egbreuk direk nadat jy hom in vertroue gesê het jy gaan skei.

Boelies d**k hulle sing voor in die koor maar eintlik het hulle geen selfvertroue of selfkennis nie. Agter 'n boelie skuil 'n gekneusde ego.

En jammer hoor! Jy gaan NOOIT eerste op die pad wees nie - die ou wat in Kroonstad begin ry het met sy 1400 Nissan bakkie is wragtag VOOR jou!

As ek vandag op my seepkas kon klim, sal ek së:

"Wel jy het 'n probleem… of jy IS die probleem. Dalk ken jy iemand met 'n probleem, of iemand wat iemand ken met 'n groot probleem!”

Punt is, daar is plek vir jou op die Heartprints bank. Of jy daaroor wil skree, kla of huil, ek luister graag.

11/08/2026

Toe Heartprints ’n naam geword het…

Dit was midde-in Covid toe ek besluit het om ’n ekstra spasie te maak vir wie ook al hulp nodig het.

Ek het nie geweet waar kliënte vandaan sou kom nie - maar ek was seker dat daar geen ouderdomsbeperking, geen siftings-proses en geen landsgrens sou wees nie.

Dis soms moeilik om iemand te vind wat bereid is om na jou probleem te luister. Dit is oorweldigend om jou hart oop te maak vir ’n vreemdeling, daar is vrees vir oordeel…vir kultuur… of, dat ’n gelowige sal luister na die gemors wat jy aangevang het. Daar is groot-oog kinders wat bang is om te praat oor die boelies by die skool, by die huis word hulle net stil en huiwerig om skool toe te gaan.

Ek wou 'n mooi spasie maak en het ’n ou bank opgemaak, twee stoele neergesit. Maar ek het geweet: my hart moes die grootste spasie en bêreplek wees, want ek huur en my adres sal verander.

Hoe kliënte by my sou beland? Deur “word of mouth” of sommer terloops. Ek het geen idee gehad hoeveel sessies sou kos nie. As dit bedoel is om te werk, sou die inkomste sy pad wel vind.

Ek het ’n bietjie ged**k en besef dat elke storie ’n ‘print’ in my hart los.

So is die naam eenvoudig gebore: Heartprints.

As jy iemand is wat 'n veilige plek soek omdat jy soms buite die lyne inkleur; of deur daardie stories wat jy diep weggedruk het wil sif en wegsmyt...

Kom! Ek het vir jou 'n spesiale bank!

29/07/2026

Ek het al baie gewens dat die Here na my toe kan kom, oorkant my sit en my help om antwoorde te kry.

Ek sal tot op ’n berg klim, of iewers op ‘n voetpad wag…as Hy net sal kom.

Om te bid voel soms soos ’n eengesprek en my redenasies met myself val plat.

Ek soek soms ’n plek, ’n geleentheid waar ek kan sê hoorie, listen, luister…ek het ’n terrible dag!

Gewoonlik moet probleme mos eers deur die kop sirkel tot vervelens toe. Dan analiseer ons vir nog ’n paar dae en as jy nie oplet nie dan val jy daar vas. Te bang om te spring, maar nog banger om te bly.

Ek verstaan hierdie warboel.

Dit is vir my ’n voorreg om oorkant mense te sit en om ou denkpatrone deurmekaar te krap. Ek gee nie om as jy vra “Why?”nie, of as jy vra “Waar is die Here wanneer hierdie goed gebeur?" nie.

Ek kan vir jou genoeg spasie gee om jou sê te sê. Dit maak nie saak hoe swaar jy dra as jy by my instap nie, solank jy bietjie ligter hier wegloop.

Kontak my en sê wat een van my kliente altyd vir my gese het…Hoorie! Listen! Luister!

24/07/2026

"My kop val stukkend" dit is hoe ek verlede Desember my vakansie begin het.

Die plekkie op Paternoster is gereed, die vliegtuigkaartjie reeds lankal bespreek, my sussie se vlug land 15 min voor myne in die Kaap.

Die oploop tot hierdie dag is chaoties! Ek werk tot op die laaste minuut, my tas gepak en reëlings is getref vir die parkering van my kar by die lughawe.

Maar, laat ek agtergrond gee... die huis se krag is reeds vir 10 dae af, die battery leeggeloop, die hek op manual en dit is nie Eskom nie.

Ek laat weet, rapporteer, stuur 'n laaste email. Aanvaar dat ek nie die alarm kan aktiveer nie en pak al my belangrike elektronika in.

Die vrieskas is lankal ontdooi, my Januarie vleis- en groente-goed weggegee.

Terwyl ek lughawe toe ry kry ek oproep, na oproep, na oproep.

Dit is die verantwoordelike persoon wat nóú die probleem wil oplos, dit is Tshwane wat nóú toegang tot die erf wil hê.

Ek gee my kar oor, loop na die check-in en my foon lui onophoudelik.

Ek gaan deur sekuriteit (die bondels op pad Kaap toe vir Kersfees) en my foon lui en lui en lui.

Teen die tyd wat ek by die naaste stoel aan die boarding hek neerslaan is ek gespan soos 'n snaar, elke hartklop bars in my ore, ek het 'n panic attack van epidermiese proporsies. My mond is kurkdroog.

Ek maak my oë toe, haal diep asem en gebruik elke tegniek in die boek om al die emosies te reguleer.

Toe ek uiteindelik opkyk sien ek dat ek reg voor Exclusive Books sit.

Ek staan op, vryf my vingers oor die boeke op die rak. My asem val in ritme, my hartklop bedaar.

My oë val op 'n boek, die titel trek my nader, ek slaan die boek oop en druk my neus diep in die reuk van woorde op papier.

Die aankondiging roep en 'n ander weergawe van myself gordel vas.

Toe die vliegtuig sy draai maak, neus in die rigting van die Kaap, kyk ek deur die venster en sien hoe word alles kleiner.

Die jaar, die irritasie, die mense, die angs-opwekkers.

🌱🌱🌱🌱🌱🌱🌱🌱🌱🌱

Ek bars ook soms deur die nate, dis hoekom ek myself kan vereenselwig met ander se emosies, disregulasie en die irritasie wat soos woede lyk.

Ek hoop jy bel my - sodat ons ook oor jou oomblikke kan praat.

21/07/2026

So nou en dan haak ek vas met klein besluite. Soos… moet ek nou Checkers 60 min of moet ek gou ry; moet ek my hare vandag was, of kan ek nog ’n dag ‘skip’. Is hierdie nou ’n groot probleem, of is dit ’n nuwe hoofstuk…

Hierdie is nie ’n probleem wat sy kop skielik uitsteek nie. Dit kan wees dat ek geleer het om ’n totale 'people pleaser' te wees. Jy weet - kom ek kies die ‘regte’ ding, of voel die ‘aanvaarbare’ emosie. Of - as ek nie kies nie sal ek nie in die moeilikheid kom nie, of iemand kwaad maak nie. Soms moet mens met iemand gesels, iemand wat patrone kan raaksien, wat kan sien ou wonde bloei.

As jy allergies is vir ’n stywe atmosfeer, kontak my en ek drink ’n koppie koffie (of tee) by jou gunsteling Coffee Shop. Dan voel dit nie soos Counselling nie, maar soos ’n ou vriendin wat graag wil hoor wat jy se.

Want your business to be the top-listed Beauty Salon in Pretoria?
Click here to claim your Sponsored Listing.

Telephone

Address


582 John Scott Street, Constantia Park
Pretoria

Opening Hours

Monday 09:00 - 16:00
Tuesday 09:00 - 16:00
Wednesday 09:00 - 18:00
Thursday 09:00 - 16:00
Friday 10:00 - 16:00
Saturday 11:00 - 15:00